Die lig skyn nog helder

Die lig skyn nog helder

Die geskiedenis bewys dat daar deur die eeue heen tydperke was toe alles stik nagdonker gelyk het en die toekoms duister en onseker was.
Soms was dit as gevolg van rampspoed en plae, droogtes en hongersnood; ekonomiese resessies wat alles in ‘n warboel dompel; oorloë wat miljoene lewens opeis en net soveel vermink laat.
Met ontrus, anargie en misdaad aan die orde van die dag; met mense wat hul werk verloor en in onsekerheid en vrees lewe as gevolg van Covid-19; met ‘n ekonomie wat op sy knieë is; met mense wat deur droogtes geruïneer is, het ons weer ‘n donker tydperk binne gegaan.
Bo-oor ons swartgalligheid heen, bo-oor die lawaai heen, klink egter die stem van Jesus Christus helder en duidelik, triomfantelik en bevrydend “… hou moed, ek het die wêreld klaar oorwin.” (Joh.16:33)
Ten spyte van al die magte van die bose en nieteenstaande die brutaliteit van
ongelowige mense, het Jesus in die donkerste oomblik in die geskiedenis van die mensdom as oorwinnaar van die dood opgestaan.
Hy het die graf en die dood oorwin toe Hy die duisternis van Golgota in die opstandingslig omskep het!
Wat God in Jesus Christus gedoen het, het hy sedertdien dikwels gedoen en sal Hy weer doen.
Laat ons God tot die uiterste vertrou en
…die verlossingsdade…verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Pet. 2:9)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *