Redaksioneel 1

Redaksioneel 1

Besighede los probleme vir ons op en is die spil waarop die ekonomie draai. Besigheid het ook die potensiaal om algemene welsyn te verbeter deur hul betrokkenheid by hul gemeenskappe. Die “Partners for Possibility” wat oor berig is op bladsy 6 is ‘n sprekende voorbeeld daarvan. “Superb News” word juis geloods om ‘n lig te skyn op hierdie verhouding. Hierdie koerant is daar om die goeie nuus bekend te maak en ondersteuning aan te moedig. Aanvanklik sal 5 000 gedrukte koerante versprei word en meer as 1 000 plaaslike besighede elektronies ingelig word met verwikkelinge.

Entrepreneurs is bekend vir die skep van nuwe ondernemings wat kreatiewe probleme oplos. Entrepreneurs kan hul gemeenskappe verbeter en ophef deur middel van groei, innovasie en sosiale transformasie. Die Entrepreneurs Revolusie kan die kontemporêre entrepreneuriese kultuur verander deur dit meer sosiaal gerig te maak. Dit mag dalk ʼn paradigmaskuif verg om ontslae te raak van die geloof dat slegs die regering en gevestigde maatskappye in staat is om die sosiale behoeftes van gemeenskappe aan te spreek, maar dit is moontlik.

Entrepreneurs, wat nader aan die mense en hul gemeenskap werk, is in ‘n perfekte posisie om kritiese probleme, soos armoede en die gebrek aan toegang tot gesondheid en onderwys aan te durf.  Deur die vestiging van nuwe ondernemings wat streef om ekonomiese welvaart te skep en sosiale ontwikkeling aan te moedig, word die langtermyn volhoubaarheid van besighede verseker.

Hierdeur kan ons as ‘n plaaslike gemeenskap toon dat ons omgee vir mekaar en graag wil sien dat ons omstandighede verbeter. Ons verwelkom ook beleggings en deelname van buite ons area maar versoek dat ons enersyds geken en betrek word. Waar daar van eksterne kundigheid gebruik gemaak word, maak asseblief voorsiening dat hier plaaslike ontwikkeling gedoen word om die kundigheid oor te dra.

My vraag aan ons lesers:

Kan twee probleme ‘n geleentheid vir mekaar wees? Die grendelstaat het die toeriste bedryf in ‘n wurggreep en baie besighede sal dit nie maak nie. Aan die anderkant is daar ‘n aftree-nood vir huisvesting van die “baby-boomers”.

Wat daarvan as die gastehuise en hotelle vir ‘n tyd as losieshuise funksioneer soos in die sestiger-jare? Waar moontlik kan vakansie sentrums as deeltitel omskep word as aftree-sentrums.   Wat dink julle? Laat my weet by info@sabusiness.co.za.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *